Konstabel Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal (KZN), het lede van die gemeenskap gewaarsku om bewus te wees van ’n groep mense wat rylopers en vragmotorbestuurders beroof.
“Die swaar gewapende groep mans teiken rylopers en vragmotorbestuurders,” sê Ngcobo. “Hul modus operandi is om die slagoffers te ontvoer en hulle na ’n afgesonderde plek te neem waar hulle met ’n vuurwapen van hul besittings beroof sal word.”
’n Aantal van hierdie voorvalle is in Harding en Kokstad aangemeld, wat onder die Harry Gwala-munisipaliteit val.
“Terwyl die polisie verskeie benaderings onderneem het om die oortreders vas te trek, bly hulle ontwykend en gebruik verskillende voertuie om opsporing te ontduik.”
Enigiemand met inligting oor die verdagtes word versoek om die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te kontak. Anonieme wenke kan ook via die MySAPS-toepassing gedeel word.