Die departement van binnelandse sake het ’n senior amptenaar die trekpas gegee, nadat hy skuldig bevind is op aanklagte wat verband hou met nalatigheid en pligsversuim.
Die amptenaar, Simphiwe Hlophe, hoofdirekteur oor infrastruktuurbestuur vir inligtingstelsels, was verantwoordelik vir inligtingstegnologie (IT), wat aspekte soos netwerkonderbrekings, ’n stelselstilstand en IT-vermoë behels.
Hlophe is aangekla van:
- Nalatigheid of versuim om pligte uit te voer deurdat hy ’n faktuur van die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (SITA) gesertifiseer het wat dienste insluit wat nie gelewer is nie;
- Oortreding van Nasionale Tesourie-regulasies, nalatigheid deurdat hy ander uitgawes gemagtig het teen ’n kredietnota wat deur SITA uitgereik is; en
- Versuim van pligte deurdat routers en skakelaars verkry is, maar in ’n stoor gebly het en nie gebruik is nie.
Verlede jaar het die Departement van Binnelandse Sake, saam met die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, sowel as SITA aan die Gesamentlike Portefeuljekomitees oor Binnelandse Sake en Kommunikasie en Digitale Tegnologie ’n plan voorgelê om stelselstilstande in Binnelandse Sake-kantore te hanteer.
SITA het onderneem om hul netwerke op te knap, terwyl Binnelandse Sake onderneem het om ’n sekere aantal nuwe routers en skakelaars te koop. Hierdie routers en skakelaars is aangeskaf.
Hlophe het gesê dat hulle ontplooi word, terwyl daar later ontdek is dat hulle in werklikheid in die stoorkamers gebly het.
Die departement het Dinsdag in ’n verklaring gesê die sanksie is uitgespreek en op 19 Augustus 2022 aan Hlophe beteken.
“Ons is op ’n vaste pad na skoon bestuur en verbeterde dienslewering. Die verantwoordelikheid vir die prestasie van die Departement berus by alle werknemers. Aanspreeklikheid vir die uitvoering van toegewese verantwoordelikhede is absoluut noodsaaklik,” het dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, gesê.