’n Golden Arrow-busbestuurder is vanoggend beseer, nadat vier van die maatskappy se busse in Nyanga en Philippi in die Wes-Kaap deur ontstoke gemeenskapslede met petrolbomme bestook en uitgebrand is.
Ander privaat- en staatsvoertuie is ook vanoggend verbrand ná ’n operasie waar wetstoepassingsagentskappe onwettige plaaslike Avanza-taxi’s geskut het.
Bronwen Dyke-Beyer, Golden Arrow-woordvoerder, sê ’n busbestuurder het kopbeserings opgedoen toe een van die voertuie aan die brand gesteek is.
Die Wes-Kaapse LUR vir vervoer, Daylin Mitchell, het die verbranding van busse en private voertuie veroordeel.
Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat die polisie se openbare orde-eenheid, asook Nyanga SAPD en metropolisie tans die situasie monitor.
Daar is egter nog geen verdagtes geïdentifiseer nie.
Die Kaapse metro, verkeersdienste, wetstoepassingsagentskappe, asook Nyanga SAPD het bevestig dat dit ’n gevolg is van ’n operasie waar onwettige taxi’s geskut is.
“SAPD-ontplooiing sal in die gebied bly totdat kalmte herstel is,” voeg Swartbooi by.
Volgens die DA beloop die skade aan die busse wat verwoes is R10 miljoen.