Emer-G-Med paramedici het vroeër vanmiddag gereageer op die toneel van ’n ernstige motorvoertuigbotsing op die N4-hoofweg, tussen Malelane en Komatipoort, in Mpumalanga.
AfriNuus het vroeër berig dat die N4-tolpad weens ’n kop-teen-kop botsing tussen twee vragmotors gesluit is.
“By hul aankoms op die toneel is paramedici met absolute chaos teëgekom, aangesien twee steenkoolvragmotors teen hoë spoed kop-teen-kop gebots het,” sê die Emer-G-Med-nooddiens in ’n verklaring. “As gevolg van die impak het een van die vragmotors aan die brand geslaan en die insittende, ’n manlike bestuurder wat vermoedelik ongeveer veertig jaar oud was, verswelg.”
Ongelukkig is hy onherkenbaar verbrand en met paramedici se aankoms dood verklaar.
Die bestuurder van die tweede vragmotor is slegs vir geringe beserings behandel.
Verder het ’n ligte motorvoertuig in die twee vragmotors vasgery, wat daartoe gelei het dat vier volwasse insittendes matige beserings opgedoen het. Hulle is op die toneel behandel en gestabiliseer voordat hulle na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere mediese sorg geneem is.
Verkeer in die gebied is erg geraak omdat die pad gesluit is sodat noodpersoneel kon werk.