Kolonel Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder in Gauteng, het die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se meegevoel oorgedra aan die families van diegene wat gister in die SAPD-vliegtuigongeluk by die Rand-lughawe in Germiston gesterf het.
Aan boord van die Pilatus Porter PC 6 was ses mense: twee van hulle was SAPD-lede en die res was tegnici van ’n maatskappy wat gekontrakteer is om SAPD-vliegtuie te diens en in stand te hou.
Volgens ’n voorlopige verslag het die ligte vliegtuig neergestort kort nadat dit op Dinsdag, 30 Augustus 2022, net na 14:30 vanaf die Rand-lughawe opgestyg het.
AO Willem Erasmus, ’n lugwaartse wetstoepassingsbeampte (Aleo) wat reeds 29 jaar aan diens is, is onder die vyf mense wat ongelukkig aan hul beserings op die toneel beswyk het.
As ’n Aleo-beampte was die lid verantwoordelik vir die verskaffing van lugondersteuning tydens misdaadvoorkoming- en soek-en-reddingsoperasies. Die enigste oorlewende van die ongeluk is kaptein Casper Swanepoel, ’n senior vlieënier wat 16 jaar aan diens is. Swanepoel het ernstige beserings opgedoen en ontvang tans mediese sorg in die hospitaal.
Die bestuur van die SAPD het vandag met die families van die twee SAPD-lede vergader, asook met die verteenwoordigers van die maatskappy wat die vier oorlede tegnikuste in diens gehad het.
Die waarnemende nasionale kommissaris, luitenant-generaal Tebello Mosikili, het namens die SAPD haar meegevoel aan alle geaffekteerde families gestuur en die vlieënier ’n spoedige herstel toegewens.
“Hierdie tragedie gebeur op die vooraand van die SAPD se jaarlikse Nasionale Gedenkdag terwyl ons voorberei om 33 polisiebeamptes en reserviste te vereer wat in die uitvoering van hul pligte in die 2021/2022 finansiële jaar gesterf het. Kom ons laat ondersoeke toe om te ontvou en tot die bodem te kom van wat tot hierdie tragedie gelei het,” het Mosikili gesê.
Die SAPD het ’n ondersoekspan saamgestel om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek. ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is ook geregistreer om die oorsaak van die dood van die vyf oorledenes te bepaal.