Tim Brauteseth, DA-woordvoerder oor die ad hoc-komitee oor die April-vloede, het Woensdag in ’n verklaring gesê dat die ouditeur-generaal (OG) vandag haar ‘intydse’ ouditverslag aan die Parlement se ad hoc-komitee oor die April-vloede in Pretoria voorgelê het.
“Die verslag onthul dat ondanks die beloftes wat deur die regerende party gemaak is, dit duidelik is dat dieselfde korrupte neigings voortduur,” sê Brauteseth. “Dit is asof die ANC-beheerde departemente hulself eenvoudig nie kan help nie.”
Die handelsentiteit vir eiendomsbestuur (PTME), wat onder die departement van openbare werke en infrastruktuur val, was ‘voorspelbaar’ die kern van die probleem.
“Die OG het bevind dat werknemers of hul gades wat met die regering werk, kontrakte verskeie kere aan maatskappye met dieselfde direkteur toegeken het. Kwotasies is ontvang nadat kontrakte begin is, kwotasiebedrae oorskry gemagtigde bedrae, die kontrakwaarde is verdeel in vyf kwotasies aan dieselfde diensverskaffer en kontrakte is aan rakmaatskappye (shelf companies) toegeken wat gevestigde verskaffers op regeringsdatabasisse ignoreer.’
Die OG het ook bevestig dat die tydelike wooneenhede wat aan ontheemde gesinne verskaf word nie aan spesifikasies voldoen nie. Van die eenhede wat deur die OG geïnspekteer is, was almal defektief, nie volgens spesifikasies gebou nie en het tekens van swak vakmanskap getoon.
“Nog ’n opvallende kwessie in die verslag was die stadige tempo van herstel wat baie duidelik dui op ’n totale gebrek aan voorbereiding vir die ramp,” sê Brauteseth. “Die verslag beklemtoon gebrek aan kapasiteit, gebrek aan voorbereiding en reaksie sowel as ondoeltreffende monitering van kontrakteurs.”
Gevolglik is baie van die ontheemde inwoners van eThekwini op dieselfde plek as wat hulle drie maande gelede was.