Deur Mosima Rafapa (GroundUp)
- Lede van Operasie Dudulu het Woensdag slagspreuke teen immigrante voor die Kalafong-hospitaal in Tshwane geskree.
- Die Gautengse gesondheidsdepartement het verlede week ’n hofinterdik bekom wat hulle verhinder om pasiënte of werknemers te dreig.
- Die polisie was in groot getalle teenwoordig.
- Lede van die drukgroep Operasie Dudula het die afgelope maand probeer verhoed dat immigrante (beide pasiënte en werknemers) die hospitaal binnegaan.
Lede van Operasie Dudula was Woensdag buite die Kalafong-staatshospitaal in Tshwane en het op immigrantepasiënte en werknemers geskree. Die polisie was teenwoordig en het die hofinterdik wat verlede week deur die Gautengse gesondheidsdepartement teen die dreigemente verkry is, toegepas.
’n Veiligheidsbeampte wat nie sy naam wou noem nie, het gesê dat Operasie Dudula-lede vir die grootste deel van Augustus buite die hospitaal opereer het, totdat die Gautengse departement van gesondheid verlede Vrydag ’n hofinterdik bekom het.
“Hulle het pasiënte met ’n donker velkleur een vir een gegroet, om te kyk watter taal hulle praat en om na hul aksent te luister. Die plaaslike taal hier is Tswana of Pedi. As hulle gevind het dat jy nie daardie tale ken nie, het hulle jou weggewys,” sê die veiligheidsbeampte, wie se stasie nie ver van die voetganger-ingang is nie.
Operasie Dudula het sedert 4 Augustus probeer om pasiënte en werknemers van ander lande toegang te weier.
“Ek is soggens 05:30 hier. Net voor 08:00 vanoggend het ’n lid van Operasie Dudula deur ’n luidspreker gepraat en gesê hulle wil nie makwerekwere (mense van ander Afrika-lande) hê nie. Hulle het Maandag hul ID-dokumente nagegaan voordat mense die hospitaal kon binnegaan. Vandag was so vyf of ses van hulle buite. Ek dink hulle wou mense wegjaag want hulle het net daar gestaan totdat die polisie opgedaag het,” het hy bygevoeg.
Die Gautengse LUR vir Gesondheid het verlede Vrydag ’n hofinterdik teen die lede verkry wat pasiënte en werknemers dreig of toegang weier. Die interdik is buite die hospitaal op die kennisgewingbord vasgeplak.
Toe GroundUp net ná 10:00 opdaag, was ’n handjievol Operasie Dudula-lede steeds buite bymekaar. Sommige het geskree dat buitelanders moet vertrek.
Voorsitter van Operasie Dudula in Atteridgeville en streekskoördineerder in Groter Tshwane, Elias Makgwadi, het gesê dat hulle buite die hospitaal se ingang gepleit het om die bestuur te kry om die hospitaal se toelatingsreëls toe te pas en nie “onwettige buitelandse burgers” toe te laat nie.
“Ons sê, pas jou eie reëls toe. Indien onwettige buitelandse burgers in hospitale opgeneem is, moet hulle na wetstoepassers en immigrasiebeamptes ontslaan word. Dis hoekom ons hier is,” het Makgwadi gesê.
Lede van die Economic Freedom Fighters (EFF) het ’n tent buite die hospitaal se ingang opgeslaan en liedjies begin sing. Phillip Makwala, provinsiale woordvoerder, het aan die skare gesê: “Operasie Dudula tree op as dokters, hulle meng in met die proses van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die immigrasiekantoor.”
Polisiebeamptes was buite die hospitaal gestasioneer.
Verrah Frace, van Zomba in Malawi, het die xenofobie veroordeel. Sy werk as huishulp in Laudium, wes van Pretoria. Frace, wat vir haar siek suster kom kuier het, het gesê dit is pynlik om te sien wat Operasie Dudula doen.
“Ek het in 2019 na Suid-Afrika gekom om werk te soek, want ons is baie arm in Malawi. Ons is in Suid-Afrika om ’n bestaan te verdien,” het Frace gesê.
GroundUp het gehoor hoe ’n hospitaalwerknemer ’n plaatjie dra wat Operasie Dudula-lede prys. “Hierdie mense kry ons medisyne gratis. Hulle kry alles gratis. Julle help ons. Julle doen goeie werk,” het die werknemer gesê voordat hy teruggegaan het na die hospitaal.
James Chasiya, van Magochi in Malawi, was by die hospitaal om sy vrou te sien wat geboorte gegee het. Hy het in 2014 in Suid-Afrika aangekom en werk as ’n loodgieter en woon saam met sy vrou in een kamer in Laudium.
“Soms is die stukwerk moeilik om te bekom, so ek verkoop van die meubels wat ek het om huur te betaal. Dit is nie so maklik om hier te woon as wat mense dink nie. Ons sukkel. My vrou werk by ’n kleuterskool maar dit is steeds moeilik. Ek is ongedokumenteerd so ek kan nie ’n regte werk kry nie. Daar is geen manier waarop ek vir ’n private hospitaal kan betaal nie,” het Chasiya gesê.
Die gesondheidsdepartement se Motalatale Modiba het gesê dat die fasiliteit berig het dat bedrywighede soos normaal voortgaan met geen verandering in die aantal pasiënte nie.
“Daar is nou meer polisie wat die situasie monitor. Pasiënte word nie meer verhinder om die fasiliteit binne te kom nie. Die departement wil pasiënte verseker dat die hospitaal voortgaan om dienste te lewer aan almal wat sulke sorg benodig,” het hy gesê.
Modiba het gesê die departement sal nie huiwer om wetstoepassingsagentskappe te bel om op te tree teen diegene wat die lewens van pasiënte en personeel in gevaar stel nie. Hy het gesê die departement het ’n hofinterdik op 26 Augustus van die hooggeregshof in Pretoria bekom “om te verhoed dat ’n groep mense pasiënte (wat geag word om nie-Suid-Afrikaans te wees) en werknemers by die Kalafong-hospitaal dreig en weier om toegang tot die fasiliteit te kry en mediese aandag te ontvang”.
Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer. Lees die berig hier.
Die berig is deur AfriNuus vertaal.
Opdatering: Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, het Donderdag die hospitaal besoek. Vind meer uit hieronder:
Ministers-Kalafong-Hospital-visit-statement-Thursday-01-September-2022