Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, het bevestig dat die DA en ander politieke partye Donderdag ’n “oorwinning vir aanspreeklikheid” in die Parlement behaal het.
Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het Dinsdag ’n sitting van die Nasionale Vergadering ‘onbehoorlik verdaag’ in die middel van ’n sitting wat vir president Cyril Ramaphosa opsy gesit is om vrae van verskeie politieke partye te antwoord.
“Sodoende het die Speaker buite die reëls van die Parlement opgetree in ’n stap wat slegs gesien kan word as ’n poging om die uitvoerende gesag van aanspreeklikheid te beskerm,” sê Gwarube. “Dit is geen verrassing as in ag geneem word dat die vraag waarop die President nie gereageer het nie, verband hou met die beweerde misbruik van staatsentiteite op sy Phala Phala-plaas.”
Die DA het vanoggend tydens ’n vergadering van die programmeringskomitee aangevoer dat die Speaker buite die reëls van die Parlement opgetree het toe sy die vergadering arbitrêr beëindig het en daarom moet die spesifieke vraag na die Parlement teruggebring word, sodat die President dit kan hanteer. “Ten spyte van die beste pogings van die ANC, het die opposisiepartye daarin geslaag om hierdie saak weer op die agenda te kry,” sê Gwarube.
“Die Parlement sal nou ’n aparte sitting herskeduleer sodat die President effektief aanspreeklik gehou kan word en dat hierdie spesifieke vraag weer gestel sal word,” voeg Gwarube by.
Die Speaker sal nou uitreik na die President om uit te vind of hy voor einde September beskikbaar is om aan LP’s te antwoord.