Noko Masipa, lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ’n video gedeel wat op sosiale media die rondte doen van skape wat by ’n taxi geskut word, nadat hulle na bewering gesteel is.
“Dit bevestig dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die polisie nie daarin slaag om boere teen diewe en misdaad te beskerm nie,” sê Masipa.
Minister Thoko Didiza het onlangs beperkings op die beweging van beeste ingestel om die verspreiding van bek-en-klouseer te stuit.
“Die teenoorgestelde het gebeur met die onlangse verslag deur die departement wat toon dat bek-en-klouseer van 116 tot 127 uitbrake in 6 van die 9 provinsies toegeneem het,” vertel Masipa.
Bek-en-klouseer is ’n aansteeklike siekte wat beeste, varke, skape, bokke, takbokke en ander diere affekteer. Die oorsake van oordrag sluit in direkte kontak tussen besmette en vatbare diere en besmette voorwerpe en voer wat produkte bevat wat afkomstig is van besmette diere.
Die DA sê dit is bekommerd dat die party steeds verslae ontvang van gesteelde diere uit gebiede wat deur bek-en-klouseer besmet is. “Die polisie word nie ontplooi om padblokkades, stilhouplekke en deursoekings uit te voer om te verseker dat geen beweging van diere plaasvind nie,” meen Masipa.
Die DA het sy oproep aan minister Thoko Didiza herhaal om dringend ’n veelpartyforum byeen te roep om die ingrypings en kommer oor die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer te bespreek.
“Dit kan nie besigheid soos gewoonlik wees nie. Daar is steeds ’n gebrek aan polisieteenwoordigheid op die grond om die bewegings van diere te monitor. Die ongekoördineerde pogings deur die Ministerie van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het gelei tot toenemende uitbrekings van bek-en-klouseer.”