Russel Meiring, ER24-kommunikasiebeampte, het bevestig dat sestien mense Sondag 4 September beseer is toe ’n taxi en bakkie op die R36-pad naby Tzaneen, Limpopo, gebots het.
ER24 en verskeie ander nooddienste het Sondag om 13h00 op die toneel aangekom om die taxi op sy sy, en die bakkie langs die pad te kry. Lede van die publiek het reeds die passasiers in die taxi bygestaan.
“Medici het die pasiënte behandel en gevind dat sestien mense geringe tot matige beserings opgedoen het,” sê Meiring. “Gelukkig is geen ernstige beserings of sterftes gevind nie.”
Die pasiënte is behandel en later na nabygeleë hospitale vir verdere sorg vervoer.
Die plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.