Reinette Liebenberg, DA-woordvoerder oor landbou, het bevestig dat meer as twee jaar sedert die driedubbele moord op Danie, Breggie en Elzabie Brand op hul Hartswater-erf, die DNS-resultate uiteindelik beskikbaar gestel is, en kon die verhoor vandag in die hooggeregshof in Kimberley aan die gang kom.
Die brand-gesin is op 26 Julie 2020 aangerand, ontvoer en vermoor. Hulle lyke is op verskillende plekke gelaat.
“Die DA was teenwoordig by alle hofverrigtinge as deel van ons hofmoniteringsprogram, om verrigtinge te monitor en waar nodig, in te gryp,” sê Liebenberg.
“Ons het voorheen druk op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geplaas om die Nasionale Forensiese Wetenskap Laboratorium se verwerking van die onderskeie DNS-uitstallings te laat versnel, waarvan vorige vertragings reeds gelei het tot ontelbare uitstellings in die Hartswater-landdroshof.”
Volgens die jongste data is daar tans meer as 150 000 bloedmonsters wat nog verwerk moet word.
“Terwyl die DNS-uitslae in hierdie saak afgehandel is, is daar steeds geen hoop vir geregtigheid in baie ander uitstaande moord- en verkragtingsake nie. Daarom het die DA onlangs die DNS-agterstand aangespreek met ’n Vrouedag-optog na die polisiestasie in Phakamile Mabijaweg, Kimberley, waar ons ook ’n memorandum aan die SAPD oorhandig het wat daarop aandring dat meer gedoen moet word om die DNS-agterstand vir alle kriminele sake uit te wis,” voeg Liebenberg by.
Die DA sê die party hoop dat die Brand-verhoor sonder verdere onderbrekings sal voortgaan sodat familielede en die gemeenskap afsluiting kan kry oor hierdie saak, wat skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het.
“Ons wens die familie ook sterkte toe vir die moeilike tyd wat voorlê.”