Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, het Maandag in ’n verklaring aangedui dat die VF Plus nie die akkuraatheid van die jongste misdaadstatistiek vir Gauteng (April tot Junie 2022) wat onlangs bekendgemaak is nie, vertrou nie.
“Dit is weens ’n direktief wat uitgereik is dat sekere ernstige misdade nie by die Meyerton-polisiekantoor aangemeld mag word indien daar nie ’n verdagte in die saak is nie,” sê Hoffman.
“Die direktief van die stasiebevelvoerder van die Meyerton-polisiekantoor, kol. Victor Lepitla, is in Mei vanjaar op ’n kennisgewingbord vasgespyker wat polisielede verbied om sekere sake te open indien daar nie ’n verdagte in die saak is nie,” voer Hoffman aan.
Volgens Lepitla is dié direktief ’n opdrag van die provinsiale kommissaris, lt.genl. Elias Mawela.
“Die VF Plus is tevrede met die boodskap van maj. Genl. Zodwa Molefe, van die polisie se menslike hulpbronne, dat die polisie ’n saak teen kol. Lepitla ondersoek,” voeg Hoffman by.
Die statistiek van ernstige aanranding, gewone aanranding, opsetlike saakbeskadiging en diefstal het in die verlede ’n opwaartse kurwe getoon, maar het nou met groot persentasiepunte gedaal.
Die VF Plus is van mening dat die direktiewe, indien van die provinsiale kommissaris se kantoor afkomstig, ook aan ander polisiekantore versprei kon gewees het wat ’n wesenlike invloed op die misdaadstatistiek sou hê.
Die misdaadsyfers van aanranding het vanaf die ooreenstemmende tydperk verlede jaar vanaf 11 036 met 5% gedaal na 10 461, terwyl aanranding met die opset om ernstig te beseer met 10% vanaf 8 743 na 7 835 gedaal het. Saakbeskadiging in die tydperk het vanaf 6 729 tot 6 630 gedaal.
Die party is ook ernstig bekommerd oor die res van die statistieke soos moord wat met 24% gestyg het, poging tot moord met 22% en swaarvoertuigkaping met 23%.
“Die statistiek toon duidelik dat die Gautengse polisie nie in beheer is van misdaad nie en dat daar ’n dringende behoefte is aan meer en beter opgeleide polisielede met genoegsame toerusting,” sê Hoffman.