Volgens Jack Bloom, Gauteng se DA-woordvoerder vir gesondheid, het die aantal pasiënte wat vir ’n operasie in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, Johannesburg, wag, van 7 288 verlede jaar tot 11 194 vanjaar gestyg, met sommige pasiënte wat gesê is dat hulle tot Desember 2026 vir hul operasie sal moet wag.
“Die inligting is deur Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, onthul in ’n skriftelike antwoord in die Gautengse wetgewer.
Daar is 3 394 katarakpasiënte wat vir ’n jaar sal wag om hul sig te herwin. Die ergste wagtyd is vir 1 777 mense wat heup- en knievervangings benodig – hulle sal vier-en-’n-half jaar wag!
En 1 304 kinders sal 6 maande wag om geopereer te word.
In die geval van prostaatkanker kan die vertraging lewensgevaarlik wees aangesien 243 pasiënte vir 24 – 36 maande vir ’n operasie sal wag.
Volgens Mokgethi is die lang waglyste as gevolg van die volgende:
- Onvoldoende teatertyd;
- Nie-beskikbaarheid van beddens na operasies;
- Infrastruktuurkwessies, beurtkrag en wanfunksionele ketels;
- Langdurige sluiting van die trauma-eenheid van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg weens die brand;
- Nie-funksionering van die teaters van Bheki Mlangeni-hospitaal waar geringe operasies gedoen kan word.
- Nog ’n faktor is dat 1 786 operasies verlede jaar om verskeie redes, soos Covid-19, gekanselleer of uitgestel is.
“Vir baie pasiënte kan dit baie maande neem voordat hulle gediagnoseer word en op die waglys geplaas word, so hul lyding is geweldig,” meen Bloom.
Sommige waglyste word net korter omdat pasiënte sterf terwyl hulle wag.
“Operasies in die aande en oor naweke sal help om die lyste te sny, en private hospitale kan betaal word om openbare pasiënte te opereer,” stel Bloom voor.