Leerders van Ludidi Senior Secondary School in die Oos-Kaap was op Vrydag 2 September in ’n ongeluk betrokke terwyl hulle van die skool af teruggekeer het. Die leerders het in hul skoolbus in Matatiele gereis toe ’n ongeluk plaasgevind het en een van die leerders, ’n graad 11-meisie, haar lewe op die toneel verloor het.
Ander leerders is na die Madzikane-hospitaal gehaas waar hulle vir geringe beserings behandel is. Een leerder was in ’n kritieke toestand en weens haar toestand is sy later na die Nelson Mandela-hospitaal in Mthatha oorgeplaas.
Die distriksbeamptes was kort nadat die ongeluk aangemeld is op die toneel en het later die oorledene se familie besoek.
Die LUR vir Onderwys, Fundile Gade, sal vandag die skool en die familie van die oorledene besoek om sy medelye te betoon.