Voorvalle van openbare geweld in Houtbaai het vanoggend opgevlam, nadat privaat voertuie en MyCiti-busse in en om Suikerbossie en Houtbaai met klippe bestook is. Buitebande is ook by die Hout Bay Gateway-sirkel aan die brand gesteek.
“Gevolglik word MyCiti- en Dial-A-Ride-dienste onmiddellik in die Houtbaai-area opgeskort,” sê Rob Quintas, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit.
“Ek het met Kolonel Syster van Houtbaai SAPD gepraat wat bykomende dienste van buite die omgewing aanvra, en ek het ook ’n beroep op stadswetstoepassingsagentskappe, metropolisie en verkeersdienste gedoen om op te tree,” sê Quintas. “Wetstoepassingspersoneel het opgedaag en sal saam met ander gesamentlike operasionele dienste werk om toegang in en uit die area, sover moontlik, te verseker.”
Dit is nog onduidelik wat die oorsaak van hierdie openbare geweld en oproer is.
Die publiek word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik, aangesien paaie deur brandende bande versper is.