Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, het navorsing gedoen oor hoe vinnig die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sy telefone beantwoord, wat “bewys dat polisieminister Bheki Cele nie omgee vir die veiligheid van Suid-Afrikaners nie.”
Skokkend genoeg het slegs 44% van die polisiestasies regoor Suid-Afrika wat die DA gebel het enigsins hul telefone geantwoord. Die mees kommerwekkende is dat 40% van hierdie 270 polisiestasies foutiewe nommers gehad het of nie bedryf kan word nie en die oorblywende 15% het nie eers hul fone geantwoord na twee minute se lui nie.
“Dit beteken dat desperate mense wat hul plaaslike polisie dringend nodig het, aan hulself oorgelaat word,” voeg Whitfield by.
Die provinsie met die swakste statistieke is die Oos-Kaap met 18 uit die 30 stasies wat nie eers ’n werkende lyn het nie en met vier stasies wat na twee minute nie hul foon antwoord nie.
Dit beteken dat mense in die Oos-Kaap nie 73% van hierdie 30 polisiestasies in die hande sou kon kry as hulle in dreigende gevaar verkeer of ’n misdaad probeer aanmeld nie.
Die Wes-Kaap het die beste resultate behaal met 23 uit 30 stasies (77%) wat hul telefone beantwoord het.
Sommige ander bevindinge sluit in:
- Nege van die stasies wat genoem word, verskyn op die top 10 lys vir moord per stasie. Ses van hulle (66,6%) het óf nie hul fone geantwoord nie óf nie ’n werkende telefoonlyn gehad nie.
- Nege van die stasies wat genoem word, verskyn ook op die top 10-lys vir verkragting per stasie. Ses van hulle (66,6%) het ook óf nie hul fone geantwoord nie óf nie ’n werkende telefoonlyn gehad nie.
Die DA is van mening dat dit nie moontlik is dat misdaad bekamp kan word, as die SAPD nie in staat is om die publiek se oproepe te beantwoord nie.
“Die jongste misdaadstatistieke bevestig hoe gebroke SAPD geword het met geslagsgebaseerde geweld (GBV) hoe kindergebaseerde misdade saam met baie ander geweldsmisdade toeneem.”
“Bheki Cele het keer op keer gewys dat hy eerder vir kameras sal poseer wat alkohol in die dreine gooi as om die basiese probleme binne die polisiediens op te los,” sê Whitfield. “Die DA is siek en sat daarvoor om te sien hoe die mense van Suid-Afrika ly onder Cele se gebrek aan leierskap. Om dié rede sal die DA môre na die kantoor van Bheki Cele in Pretoria opruk, met die duidelike boodskap dat genoeg is genoeg en dat dit tyd is dat hy gaan.”