Kolonel Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het Maandag bevestig dat die liggame van twee ongeïdentifiseerde persone wat onderskeidelik op 31 Augustus 2022 en 1 September 2022 in die Bethelsdorp-omgewing gevind is, op Maandag, 5 September 2022, uitgeken is.
Die liggaam van die vrou wat op 31 Augustus 2022 in ’n drein gevind is, is geïdentifiseer as Velencia Kelly (20) van Bethelsdorp. Haar familie het haar sowat 3 weke laas gesien. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Die lyk van die man wat op 1 September 2022 op ’n grondpad langs die Standford-pad gevind is, is geïdentifiseer as Cleevan Octavian Muller (35). Sy familie het hom ook lanklaas gesien. ’n Saak van moord word ondersoek.
Op 2 September het SAPD Bethelsdorp-speurders ’n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om die naasbestaandes van ’n ongeïdentifiseerde vrou op te spoor wat op Woensdag, 31 Augustus 2022, in ’n stormwaterdrein gevind is.
Daar word beweer dat munisipale werkers om 17:50 in die omgewing van Kwanoxolo besig was om verstoppings in stormwaterdreine skoon te maak toe hulle op die lyk van ’n onbekende vrou afgekom het wat binne die drein aan die agterkant van Nompumelelostraat gevind is. Sy het geen sigbare beserings gehad nie en haar liggaam was reeds in ’n toestand van ontbinding. Sy was kaal toe sy gevind is.
Die oorledene het verskeie tatoeëermerke op haar voet, arm en rug gehad. Op haar regtervoet het sy verskeie groottes harte gehad en haar linkervoorarm het ’n Bybel met ’n kruis en ’n kroon bo-op gehad.
In hierdie stadium het die polisie ’n doodsondersoek geopen hangende die nadoodse ondersoek.