Drie kinders van Pendlastraat in New Brighton in die Oos-Kaap het vanoggend hul lewens verloor toe die hut waarin hulle geslaap het, aan die brand geraak en hul doodgebrand het.
“Na bewering het die pa van die kinders Maandagoggend om 06:15 werk toe gegaan. Die ma het die slapende kinders gelos terwyl sy na ’n nabygeleë winkel gegaan het,” sê kolonel Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap. “Met haar terugkeer het sy die hut aan die brand gekry en ondanks pogings deur die bure om hulle te red, het hulle gesterf.”
Die brand is deur die brandweer geblus.
Die kinders was Lanele Salaza (’n 11 maande oue seuntjie), Thulani Salaza (’n 5-jarige seuntjie) en Lukuwe Salaza (’n 3-jarige dogtertjie).
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek.