Gillion Bosman, DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in ’n onlangse antwoord op ’n parlementêre vraag onthul het dat dienshonde in provinsiale K9-eenhede sedert 2018/19 van 141 tot 103 afgeneem het.
Die hoofrede hiervoor is begrotingsafnames wat oor die afgelope vyf boekjare ervaar is waar toekennings met R800 000 gesny is – wat ’n algehele afname van 6% is. Volgens die SAPD het dit hulle genoop om kostebesparingsmaatreëls in te stel as gevolg van die basislynverminderings aan polisiëring.
“Dit is hierdie verlagings wat ernstige kommer wek,” sê Bosman. “K9-eenhede vervul ’n integrale rol in die voorkoming, bekamping en ondersoek van misdaad. Die betrokke dienshonde het ’n verskeidenheid pligte, of dit nou is om plofstof en dwelmmiddels op te spoor of om aan soek- en reddingsoperasies deel te neem.”
Tot op hede is daar egter vier K9-eenhede wat deur die provinsiale departement in die Wes-Kaap gestig is, met ’n vyfde wat in Mosselbaai bekendgestel word.
Tussen 24 en 28 Augustus kon die K9-eenhede in Swartland en die Overstrand-munisipaliteite verseker dat 23 verdagtes in hegtenis geneem word.
“Hierdie kragvermenigvuldigers dra by tot ons pogings om polisiëring meer doeltreffend te handhaaf en ons gemeenskappe veiliger te maak,” sluit Bosman af.