Kolonel Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het ouers gewaarsku dat ’n kind binne ’n “knip van ’n oog” en binne enkele sekondes gegryp en ontvoer kan word.
“Daarom is dit van uiterste belang dat kinders altyd binne sig gehou word,” voeg kol. Naidu by.
Dié waarskuwing kom nadat ’n eenjarige meisie gistermiddag by ’n winkel in Cleary Park uit ’n trollie geruk is.
Die kind se ouers, 23 en 28 jaar oud, het na bewering om 14:00 in die winkel inkopies gedoen. Die kind het in die trollie gesit. Terwyl hulle besig was by die yskaste en met hul rug na die trollie, word beweer dat ’n vrou na die kind gestap het, aan haar geraak en toe weggeloop het. Binne sekondes het ’n ander vrou die kind gegryp en ook weggeloop.
Toe die pa omdraai en agterkom die kind is weg, het hy na die sekuriteit by die deur gehardloop. Terwyl die veiligheidswag die deure wou toemaak, het die eerste vrou die pa daarop gewys dat die kind by die tweede verdagte is.
Die vroue het aangedui dat hulle net met die ouers grappies maak. Die verdagtes en die klaer ken mekaar nie.
Op Dinsdag, 6 September 2022, het die sekuriteit by die winkel die polisie in kennis gestel dat die verdagtes en die klaer by hul kantore is.
Die polisie het opgedaag en beide verdagtes en klaers is na die polisiestasie gebring en ’n saak van ontvoering is geopen.
Die vroue, onderskeidelik 51 en 56 jaar oud, word aangehou.
Die ondersoek duur voort.