Corrie Pretorius (50) het vandag in die Groblersdal-landdroshof verskyn. Hy word daarvan beskuldig word dat hy na bewering ’n 16-jarige tienerseun aangerand het en ook ’n vuurwapen op hom gerig het.
AfriNuus het vroeër berig dat Pretorius en die 16-jarige seun na bewering oor ’n potjie sout by ’n plaaslike vis-en-tjips-winkel gestry het, toe ’n stryery uitgebreek het.
Dit volg op ’n beweerde voorval wat plaasgevind het in die Groblersdal Game-winkelsentrum op 15 Junie 2022.
Die video van die voorval het op sosiale media die rondte gedoen, waar gewys is hoe Corrie die seun aanrand, vloek en ’n vuurwapen op hom rig.
Die saak is volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) tot 9 September 2022 uitgestel vir Corrie om ’n nuwe regsverteenwoordiger te kry.
Die beskuldigde bly in aanhouding.