Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-hoofwoordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê dat onlangse mediaberigte lui dat ’n moontlike lekkasie by die Koeberg-kernkragsentrale voorgekom het en dat presidente Cyril Ramaphosa en Joe Biden kernkrag met hul komende ontmoeting gaan bespreek.
AfriNuus het vroeër berig dat Ramaphosa en Biden op Vrydag, 16 September, by die Withuis sal vergader. Gesprekke oor energie is op die eweknieë se agenda vir bespreking.
“Suid-Afrikaanse regeringslui hou blykbaar daarvan om aan die land as ’n kernmoondheid te dink,” sê dr. Boshoff. “Met groeiende kommer oor klimaatsverandering en die bydrae van koolstofgebaseerde elektrisiteit, kan kernkrag nie buite rekening gelaat word nie.”
Die wisselvalligheid van hernubare kragbronne kan met wye geografiese verspreiding verlig word en batterytegnologie ontwikkel vinnig.
Nogtans kan kernkrag ’n belangrike bydrae lewer om ’n betroubare basislading te verskaf.
“Die groot voorwaarde is egter dat ’n land wat kernkrag wil gebruik, die kundigheid moet hê om dit veilig te kan doen,” meen dr. Boshoff. “Suid-Afrika se rekord op dié gebied was tot onlangs baie goed. Sedert die korrelbedkernreaktorprojek beëindig is, het al hoe meer deskundiges egter die land verlaat.”
Suid-Afrikaners het verder nie die fiasko rondom oud-president Jacob Zuma se beplande Russiese kerntransaksie vergeet nie. Die bewese onreëlmatighede in dié verband, help nie om skeptici gerus te stel nie. Ook nie die voortslepende krisis by Koeberg nie.
“Ongeag die positiewe moontlikhede wat kernkrag inhou, is Suid-Afrika nie meer in ’n posisie om daaruit voordeel te trek nie,” sê dr. Boshoff.