Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het die vinnige reaksie van die polisie toegejuig ná ’n huisroof waarin ’n 68-jarige boer, Marthiens Richter, vanoggend op sy plaas vermoor en sy vrou, Elsa, beseer is. Die voorval het op Dwalboom buite Thabazimbi in die vroeë oggendure van Dinsdag 6 September 2022 plaasgevind.
Die beskikbare polisieverslae dui daarop dat ’n onbekende aantal verdagtes vanoggend om 02:00 die Dwalboom Vygeboompoort-plaashuis binnegegaan het, die man vermoor en sy vrou beseer het deur haar met ’n onbekende voorwerp te brand. Hulle het toe die huis geplunder en twee televisiestelle, vuurwapens, selfone, gereedskap en ander items geneem. Die verdagtes het die geroofde items in die slagoffers se VW Amarok gelaai en van die toneel gevlug.
Die polisie het inligting ontvang oor die vermoedelik gesteelde voertuig rondom Bela-Bela, wat ooreenstem met die beskrywing van die een wat vroeër op ’n plaas by Dwalboom gesteel is. Die genoemde voertuig is opgemerk waar dit langs Potgieterstraat in Bela-Bela bestuur word en die lede het die bestuurder beveel om af te trek. Die verdagtes het na bewering op die polisie begin skiet en ’n skietgeveg het gevolg.
Een van die verdagtes is noodlottig gewond en die tweede een is gewond en in hegtenis geneem. Die voertuig, vyf vuurwapens insluitend ’n speelgoedgeweer, ammunisie, twee TV-stelle, twee selfone en gereedskap is teruggevind.
Albei verdagtes is geïdentifiseer en was glo by dieselfde plaas werksaam. Polisie-ondersoeke ontvou om vas te stel of bykomende verdagtes ook betrokke was.
Enigiemand met inligting kan luitenant-kolonel Richard Boshomane by 079 894 5501, sersant Masilo Makola by 071 601 5174, die Stopmisdaadnommer by 0860010111 of hul naaste polisiestasie kontak.