Sewe mense, insluitend twee kinders, is dood ná ’n motorongeluk wat vanoggend op die N1 naby Mall of the North in Polokwane plaasgevind het.
Volgens die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo het ’n sportnutsvoertuig na bewering beheer verloor en teen die voorkant van ’n vragmotor gebots.
“Moegheid word as ’n moontlike oorsaak van die ongeluk vermoed,” lui ’n verklaring deur die departement.
Die pad moes tydelik gesluit word vir wetstoepassingsbeamptes en nooddienste om die toneel by te woon.
Twee mense wat beserings opgedoen het, is na nabygeleë hospitale vir mediese sorg vervoer.
Polly Boshielo, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, het sy medelye met die bedroefde families betuig.
“Dit is hartseer om wakker te word met sulke aaklige nuus. Die bedroefde families is in ons gebede. Ons bid dat hulle krag kry om deur hierdie moeilike tyd te kom. Diegene wat in die hospitaal is, is ook in ons gedagtes, en ons wens hulle ’n volledige herstel toe. Ons doen ’n beroep op motoriste om waaksaam te wees en die reëls van die pad te gehoorsaam sodat hulle lewendig by hul onderskeie bestemmings kan aankom,” het LUR Boshielo gesê.