Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het Dinsdag bevestig dat die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal van 2022 met 0,7% afgeneem het. Dit volg na twee opeenvolgende kwartale van positiewe groei.
Die verwoestende vloede in KwaZulu-Natal en beurtkrag het volgens Stats SA tot die afname bygedra en ’n reeds brose nasionale ekonomie wat pas tot pre-pandemie vlakke herstel het, verswak.
Vervaardiging die grootste belemmering op BBP
Die oorstromings het ’n negatiewe impak op ’n aantal nywerhede gehad, veral vervaardiging.
Vervaardiging is volgens 2019-data die grootste bedryf in KwaZulu-Natal, wat verantwoordelik is vir ’n vyfde van nasionale vervaardigingsproduksie. Die skade aan fabrieke, aanlegte, en ontwrigtings aan logistieke en voorsieningskettings, het die nasionale vervaardigingsuitset met 5,9% afgedruk.
Handel, spyseniering en verblyf is negatief geraak deur beide die vloede in KwaZulu-Natal en beurtkrag regoor die land. Die bedryf het ’n inkrimping van 1,5% aangeteken namate vloede kleinhandelafsetpunte en bergingsfasiliteite beskadig het. Daar was ook ’n verlies aan handelsure as gevolg van beurtkrag.
Mynbouproduksie is laer gesleep deur goud, steenkool en diamante, met die afname in steenkoolproduksie wat deels deur die oorstromings veroorsaak is. Mynbou-uitset is ook negatief beïnvloed deur beurtkrag.
Ekonomiese aktiwiteit in die elektrisiteit-, gas- en watervoorsieningsbedryf is hoofsaaklik deur beurtkrag belemmer weens ’n gebrek aan opwekkingskapasiteit. Daar was ook onderbrekings in watertoevoer, veroorsaak deur beide die vloede in KwaZulu-Natal en droogte in die Oos-Kaap.
Landbou-, bosbou- en visvangaktiwiteit het met 7,7% afgeneem, laer getrek deur ’n afname in die produksie van diereprodukte. Kragonderbrekings en die verspreiding van bek-en-klouseer het tot die afname bygedra.
Op die voorkant het die finansiële, eiendoms- en sakedienstebedryf die grootste positiewe impak op BBP-groei in die tweede kwartaal van 2022 gemaak, wat 2,4% gestyg het. Groei is aangedryf deur verhoogde aktiwiteit in die banksektor, sowel as in versekering en pensioenfinansiering.
Ekonomiese herstel van Covid-19: Nie alle bedrywe is gelyk nie
Die ekonomie het byna twee jaar geneem om te herstel van die impak van Covid-19, met BBP-syfers wat pre-pandemievlakke in die eerste kwartaal van 2022 bereik het (Figuur 2). Die herstel was van korte duur, met die daling van 0,7% in die tweede kwartaal wat die BBP terugsleep onder die vierde kwartaal van 2019 se pre-pandemie-vlak van R1 148 miljard.
In terme van hierdie aanwyser blyk dit dat landbou, bosbou, visserye en die regering die pandemie relatief goed deurstaan het.
Ses nywerhede het nog nie herstel nie, met konstruksie tans in die ergste toestand. Die konstruksiebedryf is 24% kleiner as wat dit voor die pandemie was. Mynbou het in die tweede kwartaal van 2021 effens herstel, maar het sedertdien onder sy vierde kwartaal van 2019-vlak gebly.