Ricardo Mackenzie, DA-woordvoerder oor vervoer en openbare werke, het in ’n verklaring gesê dat die DA in die Wes-Kaap die regstappe verwelkom wat deur die Intercape-busmaatskappy teen die nasionale minister van vervoer, Fikile Mbalula, geneem is.
Intercape neem minister Mbalula hof toe omdat hy versuim het om aanhoudende afpersing en aanvalle op langafstandbusse aan te spreek.
“Hierdie regsdispuut dien as ’n waarskuwing aan minister Mbalula oor sy departement se gebrek aan optrede en gebrek aan strategie rakende die kommer wat in die langafstandvervoerbedryf geopper word,” sê Mackenzie. “Dit was ontstellend om te sien dat die nasionale regering nie die geweld in die langafstandvervoerbedryf hanteer met die dringendheid wat dit vereis nie. Ons sou nie vandag hier gewees het as minister Mbalula vinnig opgetree het en doeltreffende strategieë geïmplementeer het om die krisis te hanteer nie.”
Ricardo Mackenzie sê: “Geweld is aangevuur deur afpersing in beide die openbare infrastruktuur en vervoerbedrywe. Die gebrek aan optrede van die nasionale regering het hierdie kwessies selfs verder vererger. Tussen Januarie 2021 en Februarie 2022 was Intercape-busse die teiken van meer as 150 skietvoorvalle, sowel as ander gewelddadige en intimiderende aktiwiteite, met betreklik min tot geen arrestasies wat gemaak is nie.”
Die DA in die Wes-Kaap sê die party sal voortgaan om hierdie aangeleentheid te monitor en sal herhaaldelik versoek dat misdaadintelligensie, staatsveiligheid en minister Bheki Cele meer proaktief optree in die hantering van geweldsmisdaad.