Dr. Imran Keeka, DA-woordvoerder oor onderwys in KwaZulu-Natal (KZN), het bevestig dat die politieke party vandag die toneel van verlede week se gru-ongeluk, naby Pongola, besoek het waarin 18 laerskoolkinders, ’n onderwyser en ’n bestuurder hul lewens verloor het nadat die bakkie waarin hulle gery het deur ’n vragmotor getref is wat oor ’n dubbellyn ’n ander vragmotor verbygesteek het.
AfriNuus het vroeër beeldmateriaal van die paneelkamera van ’n ander vragmotor gedeel, wat die gebeurtenis vasgevang het. Die beeldmateriaal is aan ons verskaf. Die vragmotorbestuurder is ook in hegtenis geneem vir roekelose en/of natalige bestuur waar hy tereg staan op 21 aanklagte van strafbare manslag.

“Die toesigbesoek van die DA het deel gevorm van ’n KwaZulu-Natalse Wetgewer-inisiatief wat ook gesien het dat lede hul respek betoon het aan die families van die oorledenes,” sê Keeka.
“Ons besoek het bevestig dat 20 mense gesterf het as gevolg van hierdie tragedie, eerder as 21 soos oorspronklik berig is. Daar is ook vasgestel dat ’n totaal van 13 gesinne geraak is, met een gesin wat drie lede verloor het. Begrafnisreëlings word tans gefinaliseer en samesprekings met die families is aan die gang.
“Dit is moeilik om die absolute hartseer wat hierdie gesinne ervaar, oor te dra. As ouer self was die besoek van die ongelukstoneel en interaksie met opvoeders en ouers emosioneel baie erg. Terwyl hulle tans psigososiale ondersteuning ontvang in ooreenstemming met die DA se oproep, sal dit deurlopend moet wees. Ons bly daartoe verbind om dit te verseker.”
Volgens die departement van onderwys dui voorlopige verslae oor die ongeluk op menslike foute en versuim om by die padreëls te hou.
Dit bevestig volgens die party dat die provinsie se paaie ’n doodstrik geword het.

“Toestande in die algemeen is onaanvaarbaar terwyl ’n groot aantal vragmotors ’n voortdurende bedreiging vir almal se veiligheid is,” sê Keeka.
In September verlede jaar het die DA onthul dat byna 10 000 KZN-leerders onwettig vervoer word as gevolg van tekortkominge wat verband hou met die provinsie se leerdervervoerprogram – wat deur die onderwysdepartement bestuur word en deur die departement van vervoer geïmplementeer word.
Die inligting het deel gevorm van ’n parlementêre antwoord van voormalige LUR vir onderwys in KZN, Kwazi Mshengu, op vrae wat deur die party gestel is.

1 Kommentaar
Vragmotor bestuurders moet almal oorgetoets word en die wat ongelukke veroorsaak het neem lisensie permanent WEG