Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) het Maandag ’n lugvaartkennisgewing (Notam) uitgereik sodat vlieëniers hul vlugte kan beplan voordat hulle opstyg. Die kennisgewing is uitgereik waarin lugrederye versoek word om brandstofopvulling vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe te verminder, as ’n voorsorgmaatreël om die risiko van ’n tekort aan brandstofvoorraad te voorkom.
“Die Kaapstad-lughawe het tans 4 dae se voorraad en bou voorraadvlakke op tot 6 dae se voorraad. Verskeie brandstofverskaffers hou ook voorraad in hul tenks en sal bykomende brandstof by die lughawe aflewer. Die lughawe is egter deur brandstofverskaffers in kennis gestel van ‘n vertraagde besending in JET A1-toevoer na die lughawe,” sê Gopolang Peme, ACSA-woordvoerder, aan AfriNuus.
“Dit is om hierdie rede dat ACSA ’n Notam uitgereik het om lugrederye te vra om opvulling vanaf die lughawe te verminder weens voorsieningsrisiko’s. Dit sal brandstofverskaffers en lugrederye in staat stel om oopvullings van Kaapstad-lughawe te verminder om ’n groter buffervoorraad oor die volgende vyf tot sewe dae te bou en die tekort aan voorraad by die lughawe te verminder terwyl die verskeping van JET A1 by die lughawe afgelewer word. Hierdie besending is geskeduleer om aan die einde van die week te arriveer,” voeg Peme by.