Ofentse Mokae, DA-woordvoerder oor vervoer, veiligheid en skakeling in die Noord-Kaap, doen ’n beroep op die Noord-Kaapse departement van vervoer, veiligheid en skakeling om die aanstelling van bykomende provinsiale verkeersbeamptes in die provinsie dringend af te handel.
Dit kom nadat sewe mense Sondag tragies hul lewens op die omstrede R31 verloor het, wat die totale aantal sterftes op provinsiale paaie die afgelope maand tot meer as 20 gebring het.
“Die departement het onlangs gerapporteer dat daar net 147 provinsiale verkeersbeamptes aangestel is, in teenstelling met die 300 verkeersbeamptes wat nodig is om verkeerswette in die Noord-Kaap doeltreffend toe te pas,” sê Mokae. “Van hierdie 147 verkeersbeamptes is sommige gesekondeer om munisipaliteite met administratiewe pligte by te staan en bystand aan die provinsiale verkeersdepartement te verleen, wat tot gevolg het dat nóg minder verkeersbeamptes op die pad is.”
Die DA het in onlangse portefeuljekomiteevergaderings druk uitgeoefen dat vakatures vir verkeersbeamptes waarvoor begroot is, dringend gevul moet word.
“Aangesien Oktober Vervoermaand is, sal die DA versoek dat die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer ’n blitsdebat skeduleer oor die kwessie van padveiligheid en die gebrek aan wetstoepassing op ons paaie. Ons sal ook parlementêre vrae oor die finalisering van die stigting van ’n Provinsiale Verkeerskollege indien en ’n plan van aksie eis ten opsigte van die pad vorentoe,” sê Mokae verder.
“Dit is noodsaaklik dat, soos wat ons nader aan die feesseisoen beweeg, al ons paaie deur opgeleide verkeersbeamptes gereguleer word om ’n veiliger padomgewing te bevorder en lewens te red.”