Die enigste masjien in Suid-Afrika wat bestuurslisensiekaarte druk, is weer stukkend. Die masjien het na bewering weens beurtkrag onklaar geraak.
Chris Hunsinger, die DA se woordvoerder vir vervoer, sê met Suid-Afrika se enigste lisensiekaartmasjien wat stukkend is – weereens – doen die DA ’n beroep op die minister van vervoer, Fikile Mbalula, om die bekendstelling van ’n nuwe lisensiekaart vir Suid-Afrikaanse motoriste dringend te bespoedig.
Toe die masjien verlede jaar in November onklaar geraak het, het dit twee maande geneem om te herstel, wat ’n massiewe agterstand van meer as 380 000 onhernude lisensies geskep het. Soos dit staan, is die land se lisensiekaartmasjien verouderd en blykbaar die enigste in sy soort wat oor is.
Minister Mbalula het aan die begin van die jaar gesê dat hy vanaf Oktober 2023 ’n nuwe kaartmasjien sal bekendstel wat gelyk is aan die res van die ontwikkelde wêreld en ’n nuwe bestuurslisensiekaart. In September het die Kabinet die vervanging van die huidige bestuurslisensiekaart goedgekeur met een wat veiliger ontwerpskenmerke het.
“Ons doen nou ’n beroep op die minister en die departement om hierdie proses te bespoedig om te verseker dat motoriste nie nog ’n agterstand in die gesig staar en die risiko om beboet te word nie,” sê Hunsinger. “As ’n verdere moontlike oplossing het die DA ook aan die Portefeuljekomitee oor Vervoer voorgestel dat provinsies die aansoeke en uitreiking van die nuwe kaarte moet bestuur en administreer.”
Die eNatis-stelsel sal inligting nasionaal op die sentrale databasisstelsel koördineer, maar aanstellings, aansoeke en uitreiking moet volgens die party gedesentraliseer word.
“Dit sal die risiko verminder dat jy op een masjien en ’n enkelvoudige personeelkomponent moet staatmaak.”