Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in Gauteng, sal vanoggend die Wedela Tegniese Hoërskool in Carletonville besoek na ’n noodlottige busongeluk wat gister plaasgevind het en die lewens van ’n graad 8-seun-leerder en ’n graad 10-meisie-leerder van die skool geëis het.
AfriNUUS het gister berig dat ’n bus met 60 leerders gistermiddag omgeslaan het. Die provinsiale departement van onderwys het bevestig dat die bestuurder van die bus nie na die ongeluk van die toneel gevlug het nie.
“Berigte het nou bevestig dat die bestuurder van die bus in werklikheid tans in die hospitaal is en mediese sorg ontvang en nie van die ongelukstoneel gevlug het soos voorheen beweer is nie. Hy was van die eerstes wat na die hospitaal gehaas is toe die voorval plaasgevind het,” sê LUR Chiloane.
Ná sy besoek aan die skool sal LUR Chiloane dan voortgaan om beide families van die oorlede leerders te besoek om sy medelye oor te dra.
Volgens Steve Mabona, departementswoordvoerder, is 63 leerlinge egter in die ongeluk beseer met twee sterftes.