Riaan van Zyl, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad, het Vrydag bevestig dat een van die vermeende brandstofdiewe deur beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) in hegtenis geneem is. Die diewe het diesel vanuit ’n vullisverwyderingsvoertuig gesteel deur dit in houers uit te tap.

Van Zyl is Maandagmiddag deur gemeenskapslede gekontak en gewaarsku dat diesel vanuit ’n voertuig van die metro in Brakpan-Noord gesteel word. Gemeenskapslede was reeds op die toneel.
“Verskeie foto’s en video’s van die gebeure is toe reeds deur die gemeenskap geneem wat aandui hoe ’n persoon diesel uit die voertuig tap,” sê van Zyl.
Die VF Plus het onmiddellik die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, wat ook die wyksraadslid is, Brandon Pretorius, gekontak waarna al die bewyse aan hom gestuur is.
“Pretorius het onmiddellik werk daarvan gemaak en die EMPD ingelig om na die toneel te kom,” sê van Zyl.
Die EMPD-lede het die persoon gekonfronteer en in hegtenis geneem. Tans is nog een persoon wat in die foto- en videomateriaal voorkom steeds op vrye voet, maar die EMPD is besig met ’n intensiewe soektog na hom.
