Reinette Liebenberg, DA-woordvoerder oor landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming in die Noord-Kaap, sê nadat die sestigjarige Attie Jooste in Januarie 2018 noodlottig op sy plaas in Jan Kempdorp gesteek is, het die moordverhoor uiteindelik in die hooggeregshof te Kimberley afgeskop.
“Die DA hoop dat daar nie enige verdere vertragings sal wees wat geregtigheid sal belemmer nie,” sê Liebenberg. “Die feit dat een van die beskuldigdes afwesig was van Woensdag se hofverrigtinge het verdere vertragings meegebring. Ons is wel verlig dat hy aangekeer is en saam met die ander beskuldigdes in aanhouding sal bly.”
Hierdie saak sloer reeds vier jaar en die party is daarom besorgd oor die omkeertyd vir hierdie en ander moordsake.
“Ons vertrou dat die gehalte van die ondersoekproses in hierdie geval nie die uiteindelike skuldigbevinding in gevaar sal stel nie,” sê Liebenberg. “Noudat die saak ’n aanvang geneem het, glo ons dat geregtigheid sal seëvier.”
Die saak is tot komende Maandag toe uitgestel.
“Ek sal as deel van die DA se provinsiale hofmoniteringseenheid voortgaan om die hofverrigtinge te monitor,” sê Liebenberg.
Die party sê dit is verbind daartoe om geweldsmisdaad, insluitende plaasaanvalle, te bekamp.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om belanghebbendes in die ondersoekproses by te staan sodat misdadigers aan die pen sal ry.”