Joanne Hayes, woordvoerder van die Kuleni-wildreservaat in KwaZulu-Natal, het Vrydag in ’n verklaring bevestig dat die kameelperd wat tot die dood van ’n 16-maande oue babadogtertjie gelei het, nie van kant gemaak is nie.
Dit volg nadat Carina Crayton van die Wild Heart Wildlife Foundation berig het dat die kameelperd van kant gemaak is.
AfriNUUS het vroeër berig dat Nicole Panos (25) en haar eenjarige babadogtertjie, Kaia, deur ’n kameelperd in die Kuleni-wildreservaat in KwaZulu-Natal aangeval is. Die babadogtertjie is op pad na die dokter oorlede, terwyl haar ma in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem is en steeds om haar lewe veg.
“Op Woensdag 19 Oktober 2022 tussen 15:00 en 15:30 het ’n privaat inwoner van die Kuleni-natuurreservaat in Hluhluwe saam met haar twee kinders op hul erf gestap toe hulle ’n klein trop kameelperde teëgekom het wat algemeen in die area gesien word,” sê Hayes.
“Terwyl die ma, Nicole Panos, ’n gekwalifiseerde gids en haar kinders verby die trop gestap het, neem ons aan dat een van die kameelperde die ouer kind aangeval het, voordat hy teen die ma en die jonger kind gedraai het. Ons weet nie wat veroorsaak het dat die kameelperd so ongewone optree nie.
“Ná die voorval het die kameelperde, insluitend die ma en kalf, ongedeerd na die omliggende bos beweeg.”
Die Trustees van Kuleni-wildreservaat is verpletter deur die voorval en die trauma waardeur die gesin gaan.
“Hierdie is inwoners van ons park en ’n baie geliefde deel van die uitgebreide Kuleni-familie, en ons steier steeds van die skok van wat gebeur het,” het Brian Ring, voorsitter van die Raad van Trustees van Kuleni-wildreservaat, gesê. “In die meer as 20 jaar wat die park tot stand gebring is, het duisende gaste en eienaars sonder voorval deur die park gestap.”
“Ons wil graag die breër Hluhluwe-gemeenskap en die eerste-reaksiepersoneel en paramedici van Richardsbaai en Hluhluwe bedank wat alles in hul vermoë op die toneel gedoen het.”
“Kameelperde is normaalweg nie konfronterend met mense nie, maar hulle sal hul kalfies beskerm. Soos in verskeie nuusberigte aangedui, het die kameelperd in hierdie voorval blykbaar ’n jong kalfie gehad, hoewel dit onduidelik is of dit die rede vir die aanval is,” sê Crayton.
Die oorsaak van die ongeluk word verder ondersoek.