Jack Bloom, Gauteng se DA-woordvoerder vir gesondheid, het bevestig dat die bedanking van dr. Carol Benn van die Borskankerkliniek by die Helen Joseph-hospitaal ’n harde terugslag vir pasiënte is wat vir baie jare by haar kundigheid en deernis baat gevind het.
“Ek is bekommerd dat sy na 17 jaar se uitstekende diens weg is weens onopgeloste probleme met die hospitaalbestuur,” sê Bloom. “Dr. Benn was instrumenteel in die opbou van die Borskliniek as ’n sentrum van uitnemendheid, maar dit sal moeilik wees om die hoë standaarde met haar vertrek te handhaaf.”
“Sy het altyd die welsyn van pasiënte eerste geplaas, maar dit word nie waardeer in Gauteng se openbare hospitale waar ander topspesialiste bedank het weens swak bestuur en werksomstandighede nie. Ons is gelukkig dat dr. Tim de Maayer by die Rahima Moosa-hospitaal gebly het ondanks die feit dat hy gedreig is omdat hy uitgepraat het oor die swak toestande daar,” sê Bloom.
Die probleem is volgens Bloom dat daar dikwels politieke inmenging is by die aanstelling van hospitale se uitvoerende bestuur, in plaas daarvan om die beste mense aan te stel.
Die DA stel voor dat streng merietestandaarde toegepas word by die aanstelling van hospitale se uitvoerende hoofde, wat deur sterk hospitaalrade bygestaan en gemonitor moet word.