Die kraameenheid by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg staar mediese nalatigheidseise van R1 miljard in die gesig, maar het ’n tekort aan personeel, operasieteaters en werkende toerusting.
Dié inligting is onthul in ’n skriftelike antwoord op Jack Bloom, DA-woordvoerder in Gauteng, se vrae in die Gautengse Wetgewer.
Volgens die Gautengse gesondheidsdepartement is daar 26 personeelvakatures, vier van die 12 sonarmasjiene is stukkend, en twee oorhoofse verwarmers in die kraamsaal werk nie.
“Verlede maand was die verkoelingseenheid vir twee operasiekamers vir ses dae stukkend en pasiënte is in hoë temperature geopereer, wat die infeksierisiko verhoog. Daar is ook ’n verhoogde risiko van hipotermie (abnormaal lae temperatuur) by pasgebore babas as gevolg van die nie-funksionele oorhoofse verwarmers,” sê Bloom.
Intussen is 50 mediese nalatigheidseise vir altesaam R992 miljoen die afgelope vier jaar teen die kraameenheid ingedien. Die helfte van hierdie gevalle is vir serebrale gestremdheid by babas, met individuele eise wat wissel van R10 miljoen tot R51 miljoen. Die bedrae geëis is hoog aangesien dit die koste van lewenslange mediese sorg moet dek.
“Daar is eise vir die dood van vyf babas, met bedrae wat wissel van R400 000 tot R7 miljoen. Dit is wat as die prys van ’n baba se lewe beskou word,” sê Bloom.
Die hoogste eis is R65 miljoen vir beweerde nalatigheid in die behandeling van ’n swanger vrou wat gelei het tot baarmoederinfeksie en ’n noodhisterektomie en hart- en nierkomplikasies wat dialise vereis het.
Ander hartseer eise sluit in beweerde nalatigheid wat gelei het tot die verwydering van ’n baarmoeder, en gevalle van items wat binne-in die pasiënte gelaat is na ’n operasie.
Die departement sê daar is ’n lae aantal sterftes en infeksies in die kraameenheid, maar die hoë nalatigheidseise wys daar is baie gevalle van swak mediese sorg wat tot beserings en dood lei.
Hulle identifiseer die behoefte aan drie toegewyde verloskundige teaters vir noodkeisersnee, die skepping van meer poste vir alle soorte personeel en ’n toename in teaters van vier na vyf.
“Die tragedie is dat geld wat aan nalatigheidsake bestee is, vermy kon word as dié besige kraameenheid behoorlik met voldoende toerusting beman was. En geen bedrag geld kan vergoed vir lewensverlies en lewenslange beserings wat deur nalatigheid veroorsaak is nie,” sê Bloom. “Die Kraameenheid moet dringend verbeter word aangesien dit die besigste in die land is en 20 000 babas per jaar aflewer.”