AfriNUUS kan bevestig dat die twee Stellenbossers, Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19), wat sedert Vrydag vermis is, se rooi Subaru Forester-voertuig met hul liggame daarbinne in ‘n gruisgat in Stellenbosch gevind is.
Volgens ‘n bron op die toneel het die polisie se duikeenheid twee lyke uit die gruisgat gehaal. AfriNUUS kan verder bevestig dat die ongeluk na bewering Vrydagaand gedurende beurtkrag plaasgevind het.
Daar word beweer dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en in die gruisgat beland het.
Munisipale kamera’s het Lees en Kirkland laas Vrydagaand om 23:53 op die Ryneveld-pad afgeneem.
“Die liggame van ’n man en ’n vrou is vandag, Maandag 24 Oktober 2022, uit ’n motorvoertuig gevind wat in ’n gruisgat in Paul Krugerstraat in Stellenbosch beland het,” sê Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap.
“Vroeër vanoggend om 10:10 het ’n gemeenskapslid ’n voorwerp in ’n gruisgat in die middestad opgemerk en die owerhede gewaarsku. Die plaaslike polisielede het gereageer en die toneel afgesper toe hulle die wiele van ’n motorvoertuig opgemerk het, wat die enigste deel van die voertuig was wat sigbaar was.
“Die polisie het die bystand van die SAPD se provinsiale duikeenheid versoek en met hul aankoms op die toneel, nadat hulle die omstandighede beoordeel het, het hulle die liggame van die twee slagoffers uit die motorvoertuig gehaal.
“Albei slagoffers is deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar.
“Die Stellenbosch-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek vir verdere ondersoek geregistreer.”
Die polisie het verder bevestig dat die persone Leila Lees en Ethan Kirkland is.

Familie, vriende, die polisie en nooddienste was op die toneel wat afgesper is.

Ethan was ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch en Leila was ’n kelnerin by die Decameron Restaurant in Stellenbosch.
Die paartjie is laas gesien toe hulle The Niche-woonstelblok in Stellenbosch Vrydagaand verlaat het. Die twee het saam in ’n rooi Subaru Forester gereis, wat in die gruisgat gevind is.
Die Universiteit Stellenbosch het sy innige meegevoel betuig met die vriende en familie van Ethan Kirkland, ‘n eerstejaar BSc Matie-student en sy vriendin, Leila Lees, wat die naweek by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as vermis aangemeld is en vanoggend gevind.
Prof. Deresh Ramjugernath, die Adjunk-Visekanselier: Leer en Onderrig, voeg by dat die verlies van ‘n student, nog meer in tragiese omstandighede soos hierdie, ‘n slag vir die hele kampusgemeenskap is.
“Ons harte gaan uit na die families van Ethan en Leila, wie se lewens deur hierdie tragedie kortgeknip is. Ons gedagtes is ook by die suster van Lees wat ’n Matie-student is.”

