Sewe mense is op slag dood toe ’n minibustaxi waarin hulle gery het Sondagaand deur ’n vragmotor aan sy regterkant op die R50-pad tussen Leandra en Standerton getref is. Die bestuurder van die minibustaxi is onder die oorledenes. Vyf van die slagoffers is vroue.
“Twee mense is ernstig beseer en onder hulle is die bestuurder van die vragmotor en een passasier wat in die minibustaxi was. Twee minibustaxipassasiers het met ligte beserings ontsnap,” sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga. “Die beseerdes word in die Evander-hospitaal in Mpumalanga behandel.”

Die pad was vir ure gesluit terwyl die noodpersoneel en wetstoepassers besig was om die toneel skoon te maak. Dit is later gedeeltelik vir verkeer oopgestel.
Ten tyde van die ongeluk was die vragmotor besig om steenkool van Standerton na Leandra te vervoer terwyl die minibustaxi glo passasiers van ’n kerkvergadering in KwaZulu-Natal na Devon vervoer het.
“Hoewel die ondersoek reeds aan die gang is, kan roekelose en nalatige bestuur nie uitgesluit word nie,” sê Mmusi.
Vusi Shongwe, Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het sy innige meegevoel aan die bedroefde families oorgedra en wens ook diegene wat beseer is ’n spoedige herstel toe.

Shongwe het weer eens ’n beroep op motoriste gedoen om die padreëls na te kom en hul rol te speel om ons paaie veiliger te maak.
“Terwyl ons wag op die uitslag van die ondersoek na die ongeluk, rig ons weer ’n pleidooi aan motoriste om hul rol te speel en die reëls te gehoorsaam. Dit is hartseer vir gesinne om hul geliefdes te verloor as gevolg van ongelukke wat meestal vermybaar is,” het die LUR gesê.
