Jonathan Tufts, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gqeberha, het Maandag bevestig dat hulle Sondag om 15h21 ontplooi is na aanleiding van berigte van ’n verdrinking by die getypoel van die Willows Grove-oord.
Met hul aankoms op die toneel het reddingswemmers die water ingevaar om te soek na ’n vermiste 18-jarige manlike matriekleerder wat as vermis in die getypoel aangemeld is.
Daar is verder verneem dat nog twee medeleerders daarin geslaag het om die water te verlaat en nie beseer is nie.
“NSRI en Coastal Water Rescue-reddingswemmers het ’n vryduiksoektog gedoen. Tydens ’n soektog is die liggaam van die tiener opgespoor en uit die water gehaal. Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is deur paramedici toegepas, maar nadat alle pogings om die tiener by te bring uitgeput was, is hy ongelukkig dood verklaar,” sê Tufts.
Die liggaam van die tiener is in die sorg van die polisie en die regering se forensiese patologiedienste geneem.
Kaptein Janse Van Rensburg het bevestig dat SAPD Humewood ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur het na die verdrinking van ’n 18-jarige seun op Sondag, 23 Oktober 2022, in Humewood.
Daar word beweer dat SAPD Humewood op genoemde datum om 16:35 gereageer het op ’n klagte van ’n verdrinking by ’n Willows in Marine Drive. Met hul aankoms het hulle die paramedici gevind wat Bulela Tisane (18) probeer bybring het, maar hy is oorlede.
Geen gemene spel word vermoed nie en die ondersoek duur voort.