Die hof vir seksuele misdrywe in Nelspruit het ’n oud-onderwyser, Tshepo Innocent Chochi (34), van Kabokweni, skuldig bevind en tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 18-jarige leerder. Chochi het ekstra lesse aangebied vir leerders wat met Wiskunde en Wetenskap gesukkel het, en die slagoffer was een van die leerders. Voor die voorval het die slagoffer toestemming van haar ouers gevra om die klasse by te woon. Die beskuldigde is deur die slagoffer se ouers vergoed vir die lesse wat aangebied is.
“Op 9 Maart 2019 het die beskuldigde die slagoffer se tannie gebel en haar versoek om die slagoffer vir studies te bring. Haar tannie het gehoor gegee en haar na die beskuldigde se plek vergesel, en haar by die beskuldigde gelos. Terwyl sy besig was om te studeer, het die elektrisiteit afgegaan en die slagoffer het die beskuldigde versoek om haar huis toe te vergesel. Chochi het die slagoffer ingelig dat hulle met ’n lamp gaan studeer. In plaas daarvan om te studeer, het die beskuldigde die slagoffer onvanpas betas, haar beveel om uit te trek en haar verkrag,” sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga.
Die saak is by die polisiestasie aangemeld en die beskuldigde in hegtenis geneem.
In die hof het die beskuldigde onskuldig gepleit, maar die streekhofaanklaer John Mahlwele het die getuienis van die slagoffer, haar tannie en ’n kêrel gelei en die hof het hul getuienis geloofwaardig gevind, en Chochi skuldig bevind. Die staat het ’n Slagofferimpakverklaring ingedien. In haar verklaring het die slagoffer vertel dat die voorval haar sielkundig en permanent bang gemaak het. Die hof het geen dwingende redes gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis van 10 jaar gevangenisstraf af te wyk nie.
“Die Nasionale Vervolgingsgesag erken die skuldigbevinding en vonnis en bly daartoe verbind om die plaag van geslagsgebaseerde geweld kragtig te beveg,” sê Nyuswa.