Die DA in die Noord-Kaap het die voortslepende versuim van die provinsiale regering om ambulansiedienste reg te ruk, veroordeel. Dit het nou daartoe gelei dat pasiënte in Carnarvon van ’n plaaslike begrafnisondernemer se lykswa gebruik moet maak om by die hospitaal te kom.
DA-raadslid Esau Hoorn was gister gekontak deur ’n besorgde familielid van ’n baie siek persoon wat in Bonteheuwel in Carnarvon woon. Die familie het die plaaslike hospitaal reeds op Maandag 21 November gebel om ’n ambulans te stuur. In plaas daarvan het die hospitaal bloot ’n rystoel aangebied, wat die pasiënt te verswak is om te gebruik.
Raadslid Hoorn, wat ook ’n begrafnisondernemer is, het ’n paramedikus en draagbaar by die hospitaal. Hy het daarna die pasiënt in sy lykswa na die hospitaal vervoer.
“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat daar nou van verswakte en siek pasiënte verwag word om óf hulself in ‘n rystoel tot by die hospitaal te stoot óf om in ‘n lykswa vervoer te word. Watter boodskap dra dít oor die Noord-Kaapse gesondheidsdienste uit?” sê Fawzia Rhoda,
DA tussentydse kiesafdelingshoof vir die Sentraal-Karoo.
“Ek het die kwessie na ons provinsiale woordvoerder vir gesondheid in die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer verwys. Ek sal ook opvolgskrywes rig oor vorige klagtes wat reeds by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien is, sodat ons kan toesien dat pasiënte se regte tot gesondheidsorg en waardigheid beskerm word terwyl hul nog leef.”
Rhoda sê ons kan nie toelaat dat ambulansdienste kort voor die feesgety ineenstort nie.