’n 20-jarige leerder van Kaelang Sekondêre Skool in Rocklands, Bloemfontein, is na bewering doodgesteek nadat ’n gewelddadige bakleiery tussen ‘n groep seuns uitgebreek het.
Die Vrystaatse departement van onderwys het in ’n verklaring die voorval veroordeel, wat Dinsdag 22 November plaasgevind het, en glo dat dit bendeverwant is.
Volgens die departement het ’n gewelddadige bakleiery Dinsdagmiddag tussen ’n groep seuns met messe uitgebreek wat tot die wrede messteek en ontydige dood van die 20-jarige leerder gelei het.
Die leerder is na ’n nabygeleë kliniek gehaas, maar het ongelukkig aan sy beserings beswyk terwyl hy mediese hulp ontvang het.
Die departement het verder gesê die polisie ondersoek die omstandighede rondom die voorval.
“Die polisie het vangwaens ontplooi om tydens en na skool rondom die betrokke skole te patrolleer om die situasie te monitor. Die saak is aan die SAPD se Provinsiale Anti-Bende Taakspan oorhandig,” lui die verklaring.
Die departement het ook sy psigososiale span uitgestuur om berading aan skoolkinders te verskaf.