Adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter, het ná deeglike navorsing en die insameling van bewyse ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien rakende die traumatiese diversiteitsopleiding by die Hoërskool Vishoek.
Die klag is ingedien namens bekommerde ouers wat uitgereik het na die VF Plus ná die opleidingsessie.
Die klag is teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die LUR vir onderwys, David Maynier en die groep kursusaanbieders wat die opleiding gedoen het.
Die party het aangevoer dat genoeg bewyse bestaan dat die voorval ʼn dramatiese inbraak gemaak het op die grondwetlike regte van die leerders.
“Eerstens is die leerders se reg op vryheid en sekuriteit verbreek weens die feit dat hulle teen hul wil in ʼn skoolsaal gehou is sonder die wettige oorsig van die onderwysers wat buite die saal moes wag,” sê adv. Alberts. “Geen leerder is toegelaat om uit die saal te gaan nie en geen onderwysers is binne toegelaat nie in weerwil van die gesag wat onderwyser het om na leerders om te sien in die afwesigheid van hul ouers of voogde. Die leerders is ook verbied om ʼn opname van die opleidingsessie te maak.”
Hierdie onwettige isolasie van die leerders het die voorwaarde geskep vir die verdere ondermyning van hul regte. ʼn Geheimsinnige en psigologies predatoriese omgewing is sodoende geskep waar die leerders sonder beskerming gelaat is.
In hierdie omstandighede het een van die aanbieders die stelling gemaak dat slegs wit mense rassiste kan wees en swart mense nie aangesien hulle nie mag het nie.
Hierdie stelling vorm die fondasie van kritieke rasteorie en is inherent ongrondwetlik en skree teen die gelykheidsbeginsel vervat in Artikel 9 van Suid-Afrika se Grondwet.
“Een van die wit leerders het in reaksie gevra hoe swart op wit plaasmoorde dan verstaan moet word, maar hy is met minagting stilgemaak wat ʼn verbeking van Artikel 16 van die Grondwet daarstel wat vryheid van uitdrukking beskerm,” sê adv. Alberts. “Die onderdrukking van gesonde debat is net nog ʼn rooi vlag wat aandui dat leerders opgestel is om weerlose subjekte van propaganda in die vorm van kritieke rasteorie te wees.”
Laastens het ʼn opleiding-aanbieder uitsprake gemaak teenoor die Christendom wat op die minste ongeoorloof is en op die meeste as godslasterlik ervaar kan word. Die aanbieder het ʼn gedig aangehaal sonder om die konteks daarvan te verduidelik waar dit, onder meer, lyk asof die Christenskap gelyk gestel word aan wit patriargale oorheersing.
Die Drie-Eenheid is voorgestel as bes moontlik ʼn vreemde liefdesdriehoek en die moontlikheid is opgeroep dat die Heilige Gees “queer” kon wees.
“Hierdie ongevraagde aanval op die Christendom voor minderjarige leerders is onregverdigbaar en ʼn wesenlike verbreking van die reg op godsdiensvryheid in terme van Artikel 15 van die Grondwet vir mense wat die Christenskap soos vervat in die Bybel bely,” sê adv. Alberts.
“Die uitlatings van die aanbieder het pandemonium en reaksies van skok vanaf die leerders veroorsaak. Uit die klankopnames is dit duidelik dat die aanbieder nie omgee oor die geweldige emosionele reaksie van die leerders nie so asof dit die oogmerk was om uitlokkend op te tree.
“Geen onderwyser was teenwoordig om namens die leerders in te tree nie weens die plan van isolasie wat effektief geïmplementeer is.
“Samevattend was die psigologiese aanval op die leerders ʼn wesenlike verbreking van hul reg tot integriteit in terme van Artikel 10 van die Grondwet asook ʼn verbreking van die regte van kinders in terme van Artikel 28 van die Grondwet.
“Artikel 28 waarborg die reg tot beskerming teen mishandeling, nalatigheid en afknouery en vereis dat daar bowenal altyd in belang van kinders opgetree word. Dit was verseker nie die geval tydens dié opleidingsessie nie.
“Daar is ook verswarende omstandighede wat teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement tel.”
Die organisasie sonder winsbejag, Free Speech Union of South Africa (FSUSA), het voorheen twee keer aan die LUR geskryf om hom te waarsku oor die negatiewe inhoud wat vervat word in diversiteitskursusse in die Wes-Kaap.
FSUSA het veral klem gelê op die vernietiging van sosiale kohesie en vryheid van spraak deur die diversiteitskursusse.
FSUSA se eerste brief is nie beantwoord nie waarna ʼn tweede brief aan die LUR gerig is. Iemand in sy kantoor het aangedui dat hy wel sal reageer, maar dit het blykbaar nooit gebeur nie.
Die VF Plus vra dat die MRK die saak ondersoek, asook die materiaal wat aangebied word, en om ʼn uitspraak te maak rakende die grondwetlikheid daarvan.
Dit is van groot belang dat die MRK hom in die algemeen uitspreek teen die verwronge idees vervat in die ideologie van kritieke rasteorie en meer spesifiek ʼn pad van herstel skep na die sielkundige skade wat aangerig is aan die leerders by die Hoërskool Vishoek.
Jy kan die klagte hieronder besigtig:
SUBMSSION-TO-THE-HUMAN-RIGHTS-COMMISSION-in-re-VISHOEK-HIGH-SCHOOL