15 000 leerders wat vervoer nodig het, kry dit nie. En van volgende jaar af sal daar 22 000 meer wees.
Deur Mkhuseli Sizani (GroundUp)
- 15 000 leerders wat vir skoliervervoer in aanmerking kom, kry dit nie omdat die Oos-Kaap geen begroting het nie.
- Volgende jaar gaan die getal styg tot 37 000 leerders sonder skoliervervoer.
- Sommige leerders stap 20 km per dag om skool by te woon. Gevolglik is skooluitvalsyfers hoog.
Graad 11-leerder Sinethemba Nkululeko word daagliks om 03:00 wakker om tien kilometer van sy dorpie na die skool in Willowvale, Oos-Kaap, te stap. Om 15:10 stap hy die tien kilometer terug huis toe. Hy is een van 15 000 leerders in die provinsie wat vir skoliervervoer in aanmerking kom, maar dit nie kry nie, want daar is geen begroting nie.
Verantwoordelikheid vir skoolvervoer is van die Oos-Kaapse departement van onderwys na die departement van paaie en vervoer verskuif in 2011. Volgens Unathi Binqose, woordvoerder van die provinsiale departement van paaie en vervoer, het sowat 140 000 leerders skoolvervoer nodig, maar word tans 125 000 vervoer. Binqose het gesê selfs hierdie getal strek die departement se begroting uit.
Binqose het gesê die departement moet koste op geleenthede, reis en verblyf vir sy werknemers besnoei om vir skoliervervoer te betaal. Volgende jaar sal die departement net ’n begroting hê om ’n bietjie meer as 100 000 leerders te vervoer, wat meer as 20 000 leerders sonder vervoer laat.
Dit beteken meer as 35 000 leerders sal volgende jaar waarskynlik sonder skoolvervoer wees.
Lang stap na onderwys:
Onderwysers in landelike gebiede is bekommerd dat hul skole kan sluit omdat die leerdergetalle jaarliks afneem as gevolg van die hoë koers van kinders wat skole vroeg verlaat.
Sewentienjarige Sinethemba gaan na LM Malgus Senior Sekondêre Skool in Willowvale.
“Sedert 2020 was daar geen skoliervervoer hier nie. Ek word elke dag 03:00 wakker, want ek stap sowat 10 km van Zenzile Village af om by die skool te kom. Ek verlaat my huis om 04:00 en dit is baie donker in die winter. Vir veiligheid stap ek saam met my twee klasmaats. Ons steek die riviere oor en stap deur die digte bosse. Dan kom ons 06:00 by die skool aan vir oggendklasse.
“Teen 15:10 maak die skool toe en dit is nog 10 km terug huis toe. Ek kom so 17:00 terug by die huis. Dan moet ek rivier toe gaan en die water gaan haal om my skooldrag te was, te bad en te kook. Ek moet ook die vee bymekaarmaak en nog my huiswerk doen. Dan 21:00 gaan slaap ek. Maar in die klaskamer is dit soms moeilik om te konsentreer, want ek voel moeg.”
Sy klasmaat Luzuko Bohlo (20) van Bikana Village kla ook oor die afstand. Hy het gesê: “Ek word 4vm wakker en gaan dan 5vm skool toe. Ons skoolskoene is oor ’n paar maande uitgeloop. Dit is my derde paar skoene. Soms dra ons gumboots omdat ons op nat plekke loop. Meeste van die tyd maak ons nie ons huiswerk by die huis klaar nie, want ons is moeg.”
“Op nat dae bly ons by die huis, want daar is geen manier waarop ons in klaskamers kan konsentreer terwyl ons klere nat is nie.”
Skoolhoof Manelisi Mtshizana spandeer slapelose nagte sy skool. “Ons het ’n groot uitval van leerders weens die gebrek aan skoliervervoer. Toe ek in 2017 hier aangekom het, was die getal leerders 172 en dit het gedaal tot 103. Ek moes die matriekdruipe die hele jaar laat herhaal om die skool aan die gang te hou. Die matriekslaagpersentasie was toe 13%. Maar verlede jaar was dit 50%.
“Ek het 30 leerders wat daagliks 20 km skool toe ry. Volgende jaar sal die getal leerders wat vervoer benodig tot meer as 60 toeneem, want ek gaan nuwe hoërskoolleerders ontvang,” het hy gesê.
“Ek is sedert Februarie in en uit die departement se kantoor en vra vir skoliervervoer omdat my 30 leerders nie op nat dae skool toe kon kom nie.”
“Die departement het verlede week belowe dat hy vervoer sal reël, net vir 35 leerders,” het hy gesê.
In Xhora Mouth in Bulungula Village stap leerders lang afstande om by Hoërskool Zwelenqaba in Thafalehashe Village uit te kom.
Lihle Mbikwana, bestuurder van Bulungula Incubator Vibrant Village, het aan GroundUp gesê dat leerders vier uur per dag stap. “Gevolglik verlaat baie leerders skool wanneer hulle hoërskool bereik omdat hulle nie die lang afstand kan hanteer nie.”
“In 2009, terwyl ek nog ’n leerder was, is ons skoliervervoer belowe. Maar tot vandag toe het dit nie gebeur nie.”
Mbikwana sê sommige ouers huur rondawels vir hul kinders naby Hoërskool Zwelenqaba.
“Hulle betaal tussen R150 en R500 per maand, afhangend van die kwaliteit van die rondawel. Maar dit is nie nuttig nie, want daar is geen streng reëls in hierdie rondawels nie. Soms deel ’n meisie en ’n seun die rondawel en dit lei tot tienerswangerskap,” het hy gesê.
Malibongwe Mtima-woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement het alle vrae na die departement van paaie en vervoer verwys, wat volgens hom skoliervervoer sedert 2011 bestuur.
Binqose het gesê skoolvervoer is in elk geval net ’n tydelike oplossing. “Ek onthou nog toe ek ’n SAUK-joernalis in 2015 was, is ’n oproep deur die regering gemaak dat kosskole gebou moet word om die vervoerkoste te verminder en skoliervervoerongelukke te verminder. Maar geen departement het die taak gekry om die koshuise te bou nie,” het hy gesê.
Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en kan hier gelees word. Dit is met vergunning hier geplaas.