Winston Rabotapi, DA Noordwes Woordvoerder oor Onderwys, doen ’n beroep op die Departement van Onderwys in Noordwes om te verseker dat leerders en opvoeders beskerm word teen brutale dade van misdadigheid wat die norm in hierdie provinsie geword het.
Dit volg op ’n voorval waar misdadigers polisie-aanhouding ontsnap het en in ’n bos langs die skool in Mahikeng geskuil het.
Volgens van die leerlinge en die skoolhoof is twee mans opgemerk waar hulle in die bosse langs die klaskamers wegkruip en in besit van vuurwapens is. Die skool het die polisie dadelik in kennis gestel, en die twee is later aangekeer. Daar word berig dat die verdagtes aanhouding by die Mahikeng-polisiestasie ontsnap het.
Die skoolhoof het verklaar dat die ontsnapte misdadigers nie die skoolterrein betree het nie, maar sommige ouers beweer dat hulle wel klaskamers binnegegaan het en hul kinders getraumatiseer gelaat het. Dit is belangrik dat ontwikkelinge rondom hierdie voorval ondersoek word.
Die DA doen ’n beroep op die departement van onderwys om sielkundige ondersteuning te bied aan leerders en personeellede wat duidelik ontsteld is oor die voorval, veral omdat dit tydens eksamens plaasgevind het.
“Ons doen ook ’n beroep op die Mahikeng-plaaslike munisipaliteit om te verseker dat die bos langs die skool skoongemaak word om sulke voorvalle in die toekoms te vermy,” het Rabotapi bygevoeg.
Veiligheid in en om skole behoort van die hoogste prioriteit te wees, veral in ’n tyd wat ons ’n toename in misdaad gesien het.
Volgens die tweede kwartaal van 2022-misdaadstatistieke het gemeenskapsgerapporteerde ernstige misdade met 16,3% gestyg vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar – van 21 113 gevalle tot 24 564 gevalle.
“Openbare plekke soos velde soos die bos langs Victory Primary School is waar die meeste van hierdie ernstige misdade plaasvind.”