“Eskom se begroting vir diesel is uitgeput, met tesourie wat waarskynlik sy aansoek vir R19,5 miljard vir diesel sal weier,” het Enoch Godongwana, minister van finansies, aan Bloomberg gesê
“Tesourie het nie die geld om te help nie. Dieseltransaksies met PetroSA behoort Eskom se brandstofbehoefte te dek,” meen Godongwana.
Suid-Afrika se kragvoorsiener het die Nasionale Tesourie vir R19,5 miljard gevra om diesel te koop om sukkelende kragsentrales se brandstofvoorraad aan te vul, ’n versoek wat waarskynlik nie aanvaar sal word nie, het Godongwana gesê.
Eskom het in die 10 maande tot en met Oktober R11 miljard aan die brandstof bestee en het verlede maand gewaarsku dat beurtkrag opgeskaal kan word as die fondse opraak om die brandstof te koop.
Die staatsbeheerde maatskappy het volgens Bloomberg-berekeninge tot dusver in 2022 176 dae van aaneenlopende beurtkrag ingestel.
“Die nutsmaatskappy het sedertdien ’n ooreenkoms met die staatsoliemaatskappy PetroSA vir diesel beding, wat voldoende behoort te wees om sy vereistes vir die brandstof deur die boekjaar wat Maart 2023 eindig, te dek,” het Godongwana gesê.
Eskom het Vrydag sy beurtkragskedule vir die naweek aangepas.
“Weens die uitputting van die begroting om diesel vir die oopsiklus-gasturbines aan te skaf, is Eskom gedwing om die brandstof streng te bewaar vir die ergste noodgevalle,” het Eskom Vrydag in ’n verklaring gesê toe hy die hervatting van beurtkrag aangekondig het.
Dit het gewaarsku die kragonderbrekings “aansienlik kan toeneem” in die volgende ses tot 12 maande, aangesien beplande instandhouding en onderbrekings opwekkingskapasiteit verminder.
- Bloomberg