Haseena Ismail, DA-lid op die Portefeuljekomitee van Gesondheid, het gesê Suid-Afrika het ’n tekort aan 3 401 ambulanse. Van die 3 342 ambulanse wat ons wel het, kan 750 nie tans gebruik word nie weens gebrek aan onderhoud of ongelukke.
Hierdie gevaarlike toedrag van sake is deur die minister van gesondheid, dr Joe Phaahla, in antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van die DA onthul.
Die DA het ’n aantal klagtes van gemeenskappe regoor die land ontvang dat mediese nooddienste (EMS) traag reageer op oproepe of nooit opdaag nie – sommige gesinne het geliefdes verloor wat heel moontlik gered kon gewees het as ’n ambulans betyds opgedaag het.
Die reeks artikels wat net hierdie jaar geskryf is, dui aan hoe deurdringend die probleem geword het.
Wat veral kommerwekkend is, is dat 131 ambulanse buite diens is weens ongelukke, en dat 383 ongelukke reeds vanjaar plaasgevind het, met sommige van so aard dat dit dissiplinêre prosedures en finale skriftelike waarskuwings regverdig het.
Alhoewel dit goed is om te sien dat daar gevolgbestuur is, is dit kommerwekkend om daarop te let dat Limpopo vanjaar 56 ongelukke gehad het, maar nie ’n enkele vorm van dissiplinêre stappe is ingestel nie. Die gebrek aan behoorlike gevolgbestuur in die Departement van Gesondheid is deur die ouditeur-generaal in sy jaarverslag uitgelig.
“Dit is geen verrassing dat gemeenskappe bang en kwaad is nie – hulle weet nie of hulle bygestaan sal word indien ’n mediese noodgeval hulle tref nie. En die gemeenskappe wat die swaarste getref word, is dié wat nie private mediese sorg kan bekostig nie of so landelik is dat hulle op provinsiale openbare gesondheidsdienste soos ambulanse staatmaak,” het die DA bygevoeg.
“Nie net is die tekort aan EBW-voertuie ’n huidige kopseer en gevaar nie, sou die NGV-wetsontwerp deur die Parlement gedruk word, sal die impak op die reeds oorlaaide openbare gesondheidstelsel ernstig wees,” het die DA gesê.
1 685 mense het gedurende die 2021-feestyd hul lewens in padongelukke verloor. Hoeveel kon gered gewees het as die land se provinsiale nooddienste ten volle toegerus was?