Die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, het ‘n verkeersbeampte, Gijimane July Nkabinde (57), aan die dood afgestaan nadat hy Maandagaand om 19h30 deur ‘n vragmotor langs die N4-tolpad getref is.

Dít het gebeur terwyl Nkabinde by die Middelburg-weegbrug aan diens was. Daar word beweer dat hy, toe die ongeluk plaasgevind het, die vragmotor na die kronkelbrug langs die pad verwys het.
Die ondersoek na die omstandighede rondom hierdie tragedie is reeds aan die gang.
Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, Vusi Shongwe, het sy innige meegevoel aan die bedroefde familie, vriende en kollegas van Nkabinde gestuur.
Hy het ‘n beroep op Nkabinde se kollegas in die wetstoepassingsgemeenskap gedoen om nie deur hierdie voorval ontmoedig te word nie.