Die liggaam van ’n vrou is vanmiddag om 13:00 by Voëlklip gevind nadat haar wit Toyota-bakkie by die kranse afgestort het.
Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, het aan AfriNUUS bevestig dat die polisie se soek-en-reddingspanne sedert 12:30 op die toneel was toe besoekers aan Heroldsbaai se omstrede uitkykpunt die bakkie in die see opgemerk het.
Polisieduikers en die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) het met die soektog gehelp.
Volgens Spies is die vrou vermoedelik van Groot-Brakrivier, en duur die polisie se ondersoek voort. Geen gemene spel word volgens Spies vermoed nie.
Dit is die tweede voorval in minder as ’n week. Saterdag is die liggaam van ’n 65-jarige man in die see by Voëlklip gevind nadat sy verlate voertuig by Voëlklip opgemerk is.
Die identiteit van die vrou is nog nie bevestig nie, en uit respek vir die familie van die oorledene sal AfriNUUS dit ook nie bekend maak nie.
Warren Moult het ná die nuus vandag op Facebook geskryf: “Die sluiting van die Voëlklip-pad sal geen verskil maak nie. Ek ly aan erge depressie en angs. Ek het by 3 afsonderlike geleenthede ’n paar sekondes daarvan afgekom om my eie lewe te neem en het onlangs ’n boek oor die saak gepubliseer. Daar is ’n groter kwessie agter die selfmoorde wat aangespreek moet word. Wêreldwyd neem sommige elke 40 sekondes hul eie lewe. Elke 20 sekondes probeer sommige om dit te doen sonder sukses.
“Om die pad toe te maak sal nie help nie. Die persoon sal eenvoudig ’n ander plek vind om hul lewe te neem. Die groter kwessie moet aangespreek word deur middel van onderwys en die beëindiging van die stigma oor geestesongesteldheid… Depressie is nie ’n doodsvonnis nie.”
Dit is die 7de persoon wat sedert Januarie 2022 by Voëlklip dood is. Daar is egter geen plan om die pad toe te maak nie, aangesien dit private grond is.
Jy is nie alleen nie. Daar is hulp. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) verskaf gratis hulp 24/7:
- Geestesgesondheid-hulplyn: 011 234 4837.
- Sadag se selfdoodkrisislyn: 0800 567 567.
- SMS-nommer: 31393.
LEES OOK: Lyk van man wat by Voëlklip gevind is, is dié van ’n vermiste 65-jarige man