AE Switch het op Donderdag 2 Februarie sy e-beursiestelsel aan Tariomix en Zircon Diamonds and Gold gestaak kragtens klousules 6 en 14 van sy kontrak wat spesifiek daarop fokus dat AE Switch “nie kriminele aktiwiteite op sy platform kan toelaat nie.”
In ’n verklaring het Tiaan Lombard, uitvoerende hoof van AE Switch, gesê: “Louis Liebenberg het reeds honderde miljoene rande uit die platform gehaal oor die laaste tyd, en soos in sy eie woorde, het hy slegs ’n paar miljoen by ons gelos.”
Daar is volgens AE Switch “nie naastenby genoeg geld in enige van Liebenberg se rekeninge om enigsins die geld wat hy aan sy beleggers skuld te betaal nie. Hierdie bedrag loop etlike honderde miljoene.”
“Ons interne ondersoeke toon baie duidelik aan dat Koos se geld gevat is om Piet te betaal, en het nou ’n punt bereik waar sy “beleggers” net nie meer genoeg belê om die ontsaglike hoop geld wat nodig is om uit te betaal te regverdig nie. Daar is ’n baie duidelike rede hoekom Liebenberg daarop aandring dat sy ‘beleggers’ belê voordat hy geld uit kan betaal,” verduidelik Lombard.
“AE Switch se kantore en sosiale media is die laaste weke erg aangeval omdat die publiek onder die indruk is dat die besluite om betalings te maak deur AE Switch gemaak word. Dit is en was nog nooit die geval nie. Ons is slegs ’n derdepartydiensverskaffer.
“Enige van die lede wat geld in ons platform betaal het en nie in Liebenberg se ‘skema’ nie, se fondse is absoluut veilig. Ons is tans besig met ’n oudit om toe te sien dat fondse terugbetaal word aan diegene wat nie belê het nie, maar geld op die platform het. Ongelukkig sal diegene wat natuurlik by die skema gebaat het nie op hierdie stadium enige fondse kan onttrek nie en sal AE Switch hierdie rekeninge met die Valke bespreek,” voeg Lombard by.
Die publiek is baie welkom om die Valke te kontak by 053 836 7037 vir verdere inligting. Elke lid van die ‘skema’ sal ook ’n SMS ontvang vanaf AE Switch met die nodige kontakbesonderhede van die Valke.